Sêgoed wat my kinders kwytraak

By on July 1, 2012

 

Die “Happy -Place”

Nati ~ Hendrik staan die afgelope naweek by my in die motorhuis terwyl ek iets met die gereedskap regmaak. Hy sê: “Pappa, het Pappa geweet, my gunsteling 2 plekke is die kluis en die garage”. Dit was nogal spesiaal vir my! (2016-10-01)

Brille

Lindie ~ Christiaan beskryf vandag iemand vir my wat ek moet ken. Hy sê, en dan het die Oom ‘n bril…en die bril se geraamte is bruin… (2016-10-05)

Gesin

Nati ~ Dit is skoolvakansie en ek het bietjie verlof. Ons werk hard in en om die huis in hierdie tyd – en ons speel ewe hard. Doodmoeg sit ek en die seuns vanaand aan etenstafel, toe Hendrik sê: “Pappa, ek dink ons is die heel gelukkigste gesin ooit” Dit het baie vir my beteken. (2016-10-01)

Oor spinnekoppe

Nati ~ Christiaan kom by my aangehardloop en skree: “Pappa! Daar is ‘n bruin spinnekop in die eetkamer! Dit lyk soos ‘n bobbejaanspinnekop, net kleiner. Ek dink dit is ‘n . . . baba-jaan-spinnekop” (2016-10-01)

 

#114 Wilder as die Weste

Nati ~ Hendrik vra vir my: “Pappa, bly al die Cowboys in die weste?

#113 Die werking van medisyne

Nati ~ Christiaan hou seker fyn dop hoe ons Hendrik medisyne gee, want vandag vra hy: “Pappa, as mens medisyne drink, dan spoel dit al die kieme in jou mond na jou maag toe. Of drink die kieme die medisyne omdat hulle dink dit koeldrank is?” (2015-12-29)

#112 Oor liggaamsverwarmers

Nati ~ Steeds by Hendrik se mangelontsteking. Hy het nogal erge koors. Toe ek vandag uit die kamer kom vra Chris bekommerd vir my: “Pappa, het Hendrik weer verwarm?” (2015-12-29)

#111 Mangelontsteking

Nati ~ Hendrik het ‘n mangelontsteking en hy het nogal erge koors. Vandag sê hy vir my: “Pappa, my kop is warmer as die agterkant van ‘n selfoon.” (2015-12-29)

#110 Misplaaste woorde

Nati ~ Ek kan lekker in my binneste lag as Christiaan die verkeerde woorde vir ‘n situasie gebruik. Die 3 voorbeelde wat in hierdie week byvoorbeeld gebeur het was die volgende: “Pappa, wanneer is die Mango’s ryk?“; “Pappa, ek dink die arbeie is gaar!“; “Kyk Pappa! Die blommetjies het uitgebroei!” (2015-12-21)

#109 Om hoog te skiet

Nati ~ Christiaan is absoluut gek oor enige iets wat kan skiet. Hy sal ure en ure met ketties en pylgeweertjies speel. Vandag staan en speel hy met ‘n speelgoed pyl en boog wat ek vir hom gekoop het. Hy skiet die pyl herhaaldelik in die lug in op, en put dan groot genot daaruit as die pyl weer af afkom. Ek sê vir hom: “Sjoe Chris, jy skiet hoog!” “Ja” sê hy, “ek dink ek skiet die pyl tot op die wolke en dan gooi Jesus dit vir my terug.” (2015-12-18)

#108 Om die see te sien

Nati ~ Toe ons vandag by die kus aankom, speel ons die gebruiklike speletjie in die kar van wie kan die see die eerste sien. Ek kan nie onthou wie gewen het nie, maar toe ons op ‘n stadium nog so ry en die see wyd oopgestrek langs ons lê, verkyk die kinders hulle aan die groot massa water. Chris sê toe: “Gelukkig kan ek die see sien, want ek het groot oë” (2015-12-15)

#107 ‘n Ander uitkyk

Nati ~ Ons ry met die Polo see toe en ek voel eintlik so sleg teenoor die seuns, want hulle sit soos 3 sardientjies op die agterste sitplek ingedruk. Volgens my moet veral Hendrik moeilik sit, want hy sit tussen die ander twee se kinderstoeltjies ingeprop. Tog lyk hy nie of dit hom veel pla nie. Op ‘n stadium vra ek besorgd agtertoe: “Sit julle oraait, manne?” Hendrik antwoord: “Pappa, ek sit soos ‘n koning in die middel, en langs my is my soldate.” (2015-12-15)

#106 Trappe van vergelyking

Nati ~ Hendrik sê vandag vir my: “Pappa, het Pappa geweet my groot is God se klein?” (2015-12-10)

#105 Klavierspel

Lindie ~ Ons het onlangs ‘n tweedehandse klavier gekoop met ‘n belastinggeldjie wat uitbetaal het. Ek sit en speel op die klavier terwyl Nati en die seuns op die bank vir my sit en kyk. Dit wil vir ons lyk of Hendrik ‘n uitsonderlike belangstelling in musiek het en hy sit vanaand weer vasgenael en kyk vir my. Dit is toe dat hy vir my sê: “As ek hoor hoe Mamma speel, wil ek sommer vir Mamma ‘n soen gee” (2015-12-07)

#104 Geskok oor die ware atlas

Nati ~ Hendrik vra my vandag: “Pappa, bestaan droomland regtig?” “Nee, Hendrik” sê ek huiwerig. “En blommeland?“, vra hy weer. “Nee, seun“, antwoord ek. “Bestaan speelgoedland?” is sy volgende sin. “Nee, Hendrik” antwoord ek stilweg. “Wat van Legoland?” vra hy onthuts. Teen hierdie tyd skud ek maar net skaamweg my kop. “En dan bestaan sprokiesland seker ook nie?” antisipeer hy my antwoord – en ek bevestig maar sy vermoede. “Nou watter lande bestaan dan ook nie?” wil hy ergerlik weet. (2015-11-29)

#103 Halwe middagslapies

Lindie ~ Ek stoei alweer om die seuns ‘n middagslapie te laat neem. Vandag ry ons in die kar en ek sien hulle raak aan die slaap. Omdat ek bekommerd is dat as ons by die huis kom hulle dan uitgeslaap is, sê ek vir hulle dat hulle steeds moet gaan slaap as ons by die huis stop. Hulle protesteer ewe en sê dat hulle nie moeg is nie – waarop ek antwoord dat hulle dan alreeds besig is om aan die slaap te raak. Dit is toe dat Christiaan sy verweer opper: “Maar Mamma, dit is net my een oog wat slaap!” (2015-11-23)

#102 Ongeskikte foto’s

Nati ~ Die seuns speel met my selfoon en het onder andere die kamera ontdek. Hulle kom wys my die foto’s wat hulle geneem het. Hulle weet natuurlik nog nie dat hulle die foon moet stilhou as hulle ‘n foto neem nie, so alles is onduidelik. Hendrik sê ontevrede: “Dit lyk my die foto’s het bietjie GEBURP…” (2015-11-18)

#101 Die Engelse Onse Vader

Nati ~ Ek het gesukkel om my lag vandag te hou. Hendrik’hulle het by die skool geleer om in Engels te bid. So kom hy toe by my aan om bietjie vir my te laat hoor: “Our Father who art eleven. Hallo thy name. Lead us not intititiation…” (2015-11-14)

#100 Klassifikasie van …

Nati ~ Vandag vra Christiaan vir my: “Pappa, is Mango’s groente of ertjies?” (2015-11-9)

#99 Nog ‘n baba

Nati ~ Paul verjaar vandag en mens wonder onwillekeurig oor hoe ons gesin verder gaan lyk. Gaan ons nog ‘n laaste kindjie kry of gaan ons nou stop. Speels vra ek vir Hendrik of hy nie dink ons moet nog ‘n babatjie kry nie. “Nee!” sê hy verontwaardig, “ek [Hendrik] het heeltemal te veel werk om nog ‘n baba te kry!” (2015-11-05)

#98 Die gene van ‘n introvert slaan deur.

Ek is besig om iets te sweiss en Hendrik staan by my. So tussendeur praat ons lekker oor alles en nog wat. Op ‘n stadium sê hy vir my: “Het Pappa geweet ek lag nie eintlik nie?” “Wat bedoel jy?“, vra ek bekommerd. “Jacques [nefie] lag baie. Ek lag nie so baie soos hy nie. Al is ek bly, sê ek dit nie. Ek is net bly in my kop“. Ek was verstom oor hierdie selfkennis van Hendrik. (2015-11-04)

#97 Hondelekkertjie

Nati ~ Toe ons na die naweek by die huis kom, kom groet die honde ons soos altyd baie passievol. Christiaan sê: “Die honde lek my! Hulle dink seker ek is ‘n lekkertjie.” (2015-10-31)

#96 Middagslapies

Lindie ~ Dit kan nogal ‘n moeilike taak wees om die mannetjies in die middae so ver te kry om te gaan slaap. Daar is altyd een of ander verskoning. Toe ek byvoorbeeld vandag vir Christiaan sê hy moet gaan slaap as ons by die huis kom, was sy antwoord: “Maar Mamma, ek het nie ‘n slaap nie!” (Ek dink hy het bedoel: Ek is nie moeg nie!) (2015-10-23)

#95 Leestekens

Dit is eintlik verstommend hoe gou kinders leer lees. Hendrik is nou die 2e jaar voorskool, en hoewel hy nog nie kan lees nie, kan hy beslis sekere letters identifiseer. Hy kan byvoorbeeld baie gou die letters van sy naam in ander woorde raaksien. Maar wat my vandag opgeval het, is toe hy ‘n vraagteken sien het hy gesê: “Pappa, dit is ‘n ‘weet-nie-prentjie’“. Dit is eintlik ‘n baie oulike naam vir ‘n vraagteken. (2015-10-15)

#94 Slymprobleme

Nati ~ Vandag ontvang ek ‘n oproep op my selfoon, maar die sein is sleg en kort-kort breek die oproep op. So gebeur dit toe dat die oproep toe heeltemal wegval. Christiaan het my seker so gestaan en kyk hoe ek probeer rondloop om behoorlike sein te kry, want toe dit eindelik opbreek sê hy: “Het Pappa se foon slymprobleme?” (2015-10-08)

 #93 Troufoto’s

Lindie ~ Ek kry vandag vir Christiaan waar hy in die eetkamer voor ons troufoto’s staan. “Wat sien jy?“, vra ek vir hom. Diep in verwondering antwoord hy: “Mamma het soos ‘n prinses gelyk.” (2015-10-03)

#92 Hulp van Bo.

Nati ~ Ons het die afgelope naweek ‘n angswekkende ervaring gehad. Toe ons Vrydagmiddag by die huis kom, het ons gesien dat Christiaan se hondjie, Eta, nie meer in die erf is nie. Ons het oral gesoek en op en af gery totdat dit donker was.  Met ‘n beklemming en ‘n groot hartseer het ons uiteindelik huiswaarts gekeer (My eie GSP is mos so paar jaar tevore ook gesteel, so ek was baie bekommerd dat ons nie weer Eta gaan sien nie). Toe ons by die huis kom het Christiaan gevra of ons saam kan bid vir sy hondjie. Plegtig het ons ons koppe gebuig en Christiaan het die Here gevra om sy hondjie te beskerm en te laat terugkom. Ek was byna bewoë.

Teen die Saterdag was daar nog geen teken van Eta nie. Dit het niks goeds voorspel nie. Dit was reeds meer as 24 uur wat die hond vermis geraak het en rondom ons is dit net bosse met baie slange en wilde diere. Chris het nog moedig gebly dat sy sal terugkom, maar ek het hom begin voorberei op die ergste.

Die Sondagmiddag omtrent 17:00 hoor ons ‘n getjank teen die heining. Toe ons gaan ondersoek instel, staan Eta daar! Die verwelkomingsparty was nie mis opgewonde om haar te sien nie, en het haar gesoen en gedruk. Tussendeur vermeld Christiaan: “Sien Pappa, Jesus het ‘n plan gemaak.” (2015-09-28)

#91 Meervoudsvorme

Nati ~ Lindie sê vanaand aan tafel vir die seuns dat hulle hul slaai moet eet. Hendrik kyk na my en sê: “Het Pappa geweet blaarslaai is ‘n groent?“. Ek sê: “Ja, dit is groente“. “Nee” sê Hendrik, “dit is net een so dit is groent” (2015-09-21)

#90 As Paul slaap

Lindie ~ Mens skrik nogal as jy jouself hoor in die kinders se stem. So ry ons vandag winkel toe. Paul is baie moeg en huil die eerste deel van die rit vreeslik. Na ‘n rukkie kap hy om en raak hy aan die slaap. Toe ons by die winkel uitklim sê Hendrik (wat langs Paul in die kar gesit het) baie ernstig: “Moet asseblief net nie Paul wakker maak nie. Ek het vreeslik gesukkel om hom aan die slaap te kry.” (2015-09-14)

#89 Oorlog met die muskiete.

Lindie ~ Ek lê by Christiaan en probeer my bes om hom tot ruste te bring sodat hy kan slaap. Maar kort-kort het hy nog iets wat hy wil sê. Nou sê hy: “Mamma! Hier is ‘n muskiet! Hierdie muskiet het my geskiet!” (2015-09-03)

#88 Woeste nagmerries!

Lindie ~Dit lyk vir my Christiaan verstaan die term “nagmerrie” ietwat letterlik. Ek vra een oggend vir hom hoe hy geslaap het, en hy antwoord: “Nie so lekker nie“. “Hoe so?“, vra ek. “Wel“, sê Christiaan, “die nagmerrie het my op my toon gebyt!” (2015-08-12)

#87 Wat alles darem nie op bome groei nie!

Nati ~ Ons plant so stuk-stuk vrugtebome op die kleinhoewe aan. Die idee is dat ons oor so 5 jaar lekker baie vrugte gaan hê en dat ons bykans niks sal hoef aan te koop nie. Vandag loop en kou Christiaan aan iets, toe hy skielik stilstaan en na my kyk met oë wat verklap dat hy ‘n blink plan het: “Pappa, kan ons ‘n sjokolade boom plant?” (2015-07-15)

#86 Paradysies in die patrys

Lindie ~ Ons het onlangs in die wildtuin ‘n patrys langs die pad gesien hardloop. Vandag sien Hendrik weer een in die oop stuk veld langs ons huis, en hy sê: “Mamma! Kyk, nog ‘n ‘Paradysie’!” (2015-07-09)

#85 Vertroue in Jesus

Nati ~ Daar speel vandag ‘n maatjie by ons huis. Ek sit in my kantoor terwyl Hendrik, Christiaan en die maatjie hier buite skuins by my venster, doenig is. Ek weet nie hoe die gesprek gekom het nie, maar hoor net hoe Christiaan vir die maatjie sê: “Jy hoef nie bang te wees nie. Sorg net dat jy die heeltyd by my en my boetie bly, want Jesus is met ons.” (2015-06-21)

#84 Reaksie op die nuus dat ons nog ‘n boetie kry

(2014-05-15)

#83 Elke bok het sy nut

Nati ~ Die vorige jagseisoen het ek ‘n vlakvark geskiet, en heerlike kaasworsies van hom gemaak. Toe ons vanoggend aan die ontbyttafel aansit, sit Linde vir ons die laaste van die vlakvarkworsies voor. Ons almal is teleurgesteld want dit was voorwaar ‘n treffer. Maar ek verklaar summier dat ek hierdie jaar gaan probeer om weer ‘n vlakvark vir hierdie doel te skiet. Hendrik beaam dit en sê ek moet ook ‘n rooibok skiet vir rooibokbiltong. Waarop Lindie sê dat sy graag wil hê dat ek weer ‘n blouwildebees moet skiet vir blouwildebeesmaalvleis. Dit is op hierdie punt wat Christiaan sê hy dink ek moet ‘n waterbok skiet vir water… (2015-04-19)

#82 Slaapliedjies

Lindie ~ Êrens in die middernagtelike ure het Christiaan wakker geword en hy kom ingewals by ons in die kamer. Hy vra dat ek by hom kom lê sodat hy aan die slaap kan raak. Toe ek langs hom inkruip, vra hy dat ek vir hom sal sing. Al fluisterend verduidelik ek vir hom dat ek nie nou kan sing nie, want dit gaan sy boetie – met wie hy ‘n kamer deel – wakker maak. Maar Christiaan vat nie “nee” vir ‘n antwoord nie, en vra nog ‘n keer baie versigtig: “Mamma kan net liggies sing…” Ek het toe maar saggies vir hom gesing (2015-04-02)

#81 Anatomie 101

Nati ~ Êrens in ‘n gespelery het Hendrik seergekry. Hy kom by my terwyl hy sy elmboog vryf en sê: “Pappa, ek het my arm se hak gestamp” (2015-03-09)

#80 Lewensversekering

Nati ~ Christiaan sê vandag vir my oor swem in die see, dat hy nie daarvoor bang is nie. Bekommerd dat hy te blazé oor die gevaarlike ding praat, vra ek hom daaroor uit. Hy antwoord: “Ek kan nie verdrink nie, want die Heilige Gees is met my”. (2015-03-05)

#79 Obskure braai by die see

Nati ~ Ons kuier nog by Greenheart se see en die seuns speel buite met die braaier waarop ons gisteraand ‘n vleisie gaar gemaak het. Ek hoor ‘n onderaardse geskree en besluit om te gaan ondersoek instel. Toe ek buite kom sien ek gelukkig dat niemand seergekry het nie en dat dit deel is van ‘n spelery. Daar is blare, stokke en takke op die rooster, wat die seuns kwansuis besig is om te braai. Belangstellend vra ek hulle uit oor wat hulle besig is om te doen. Hulle antwoord my dat hulle besig is om seekos te braai. Hendrik wys na een van die blare en sê: “Dit is ‘n vis!”. Hierop wys Christiaan met sy braaitang na ‘n stok en sê: “En hierdie is ‘n krap”. “En daai is ‘n haai” sê Hendrik opgewonde terwyl hy na nog ‘n ander stok op die rooster wys. “Maar hoekom skree julle so?”, vra ek nuuskierig. Hulle altwee wys verwytend na ‘n blaar in die hoek van die rooster en sê: “Dis daai een wat so skree! Dis ‘n skreekat!” (Ek vermoed hulle het nie die begrip “seekat” mooi gesnap nie). (2015-03-02)

#78 Rooibootjies

Nati ~ Oppad seevakansie toe, droom die seuns op die agtersitplek van alles wat hulle gaan doen. Hendrik vra of hy weer op die lagoon se roeibootjie mag vaar. “Natuurlik!” antwoord ek, en ek vra vir Chris of hy saam met ons wil gaan. “Ja” sê hy. “Maar in ‘n blou bootjie. Dit is die kunsteling myne”. Ek vermoed hy het deurmekaar geraak met roei en rooi. (2015-02-27)

#77 Barbie-mooi

Lindie ~ Die seuns kry dit reg om net die regte dinge te sê wat my dag te maak. Vandag kyk Hendrik vir my en sê: “Mamma, weet Mamma, Mamma is so mooi soos Barbie”. (2015-02-25)

#76 Trouklere

Lindie ~ Dit is ‘n heerlike Saterdag in die Laeveld. Ek besluit om ‘n lekker somersrok van my aan te trek. Toe ek by die kamer uitstap en die seuns my sien, skree Hendrik in verwondering uit: “Aaaa! Gaan Mamma trou?” (2015-02-14)

#75 Wilde winde

Nati ~ Daar breek ‘n lekker groot donderstorm los hier oor die Laeveld en die takke kraak sommer soos wat die wind waai. Op ‘n stadium sê Hendrik met groot oë: “Hoor net hoe sweiss die wind!”. (2015-02-03)

#74 Insekte en hul stokperdjies

Nati ~ Ek sit buite en braai. Die seuns speel in die omtrek. Ek sien Christiaan loop en druk sy groottoon in die gras so vêr as wat hy loop. “Wat maak jy seun?”, vra ek. “Ek soek krieke”, antwoord hy. En toe volg hy dit dadelik op met sy ‘n vraag van sy eie: “Pappa, speel krieke krieket?” (2015-01-25)

#73 Hondekinners

Nati ~ Ek is lief daarvoor om saam met die seuns ‘n draai op die kleinhoewe te stap. Ons noem dit “patrollie-loop”. Die honde is net so gek daarvoor. Hulle is al om ons en ruik-ruik onder elke graspol. Hendrik verkyk hom aan sy hond en sê: “Pappa, mens kan sien Barth is ‘n plaasjapie!” (2015-01-18)

#72 Hoë opinie oor Oupa Hennie

Nati ~ Hendrik vra deesdae baie uit oor die Laerskool, Hoërskool en Universiteit. Jy kan sien hy pluis vir homself uit wat kom wanneer in jou lewe. Op ‘n stadium sê hy vir my: “Oupa Hennie is ‘n professor by die universiteit. Dit is soos ‘n meneer by die skool – net slimmer. Hy help die mense. As die kinders hom vra ‘Is ‘n leeu ‘n insek?’ Dan sê hy ‘Nee, ‘n leeu is mos nie ‘n gogga nie’’’. (2015-01-17)

#71 Om God se stem te hoor

Lindie ~ Nati is met ‘n funksie by die Kerk en die plan was dat ons op ‘n stadium by hom aansluit. Dit is nogal belangrik dat ons daar moet wees. Net toe ons moet ry, kom ons agter my karsleutel is soek. Ek verduidelik aan die kinders dat ons nie kan ry as ons nie die sleutel kry nie. Hulle was baie ontsteld want hulle het vreeslik uitgesien. Uit radeloosheid doen ek toe sommer ‘n gebed saam met hulle waarin ons vir Jesus vra om ons te help om die sleutel te kry. Seker omtrent na ‘n halfuur se soektog, kom Hendrik by my aan en sê: “Mamma, hoekom kry ons nie die sleutel nie? Ons moet vra dat God harder moet praat. Ek hoor nie waar ek moet soek nie.” (2015-01-15)

#70 ‘n Yslike oksimoron

Nati ~ Dit is nog ‘n snikhete dag in die Laeveld. Terwyl Hendrik die sweet van sy voorkop afvee, sê hy: “Sjoe, dit is yslik warm!”. Ek kon nie help om te glimlag oor sy teenstrydige woordkeuse nie. (2015-01-15)

#69 Oulike vergelyking

Nati ~ Hendrik sê vandag vir my: “Pappa, ‘n flits is soos ‘n gps. Altwee wys vir jou waar om te gaan”. Ek het gedink dit is ‘n dekselse oulike vergelyking! (2015-01-11)

#68 Nog ‘n Mamma in die huis

Lindie ~ Die afgelope paar dae is Hendrik nogal baasspelerig oor Christiaan. Hy sal kort-kort vir hom sê wat om te doen of wat om nie te doen nie. Netnou het hy ewe met Christiaan “geraas” en toe trap ek hom vas en sê vir hom dat ek die Mamma is en dat hy nie een van Christiaan se ouers is nie. Net ‘n rukkie later hoor ek hoe Hendrik weer ‘n keer vir Christiaan met ‘n gedempte stem korrigeer, sodat ons nie hoor nie. Maar Christiaan vererg hom en roep na my: “Mamma! Hendrik is alweer ‘n Mamma!” (2015-01-07)

#67 Lego-amputasies

20140906_222449Nati ~ Die seuns kom vandag ontsteld in my  kantoor ingehardloop. Een van hulle lego-mannetjies se been het gebreek. Dit is áf. Soos in heeltemal wég. Baie verontwaardig met die halwe mannetjie, sê Hendrik terwyl hy met sy hand sulke op-en-af bewegings beduie: “Maar Pappa, nou kan die mannetjie nie meer loop nie. Nou moet hy so galop-galop”. Ek dink hy het bedoel: “hop”. Dis immers min dat mens ‘n halwe lego-mannetjie sien galop. (2014-12-28)

#66 Hondekos

Nati ~ Na ‘n lekker familiekuier, keer ons terug huiswaarts. Die honde bied vir ons ‘n warm verwelkoming aan deur op ons te spring, ons te lek en hard te blaf. Hulle blydskap toe hulle ons sien, ken geen perke nie. Op ‘n stadium drom hulle rondom Chistiaan saam en stamp en lek aan hom. Chris probeer hulle wegkeer, maar hoe meer hy keer, hoe meer dink hulle hy speel. Dan gryp hulle sy mou en ruk aan hom. Op ‘n stadium hoor ek Chris vir die honde (amper angstig) sê: “Nee! Ek is nie hondekos nie!” (2014-12-27)

#65 Om muskiete te slag

Lindie ~ Die muskiete los nogal vir Nati en Hendrik uit, maar hulle is baie lief vir my en Christiaan. Een oggend is Christiaan weer vol byte. Verontwaardig sê hy vir my: “Mamma, die muskiete het my gebyt. Ek trek sommer hulle tande!” (2014-12-21)

#64 ‘n Droom van ‘n lewe.

Nati ~ Dit is Desember en die familie kuier by ons. Almal is vrolik en gesels lekker. Mens kan sien die kinders voel aan alles is nie so gejaagd nie en dat ons program meer ontspanne is. Een aand is die mense in die huis saam met Lindie doenig, terwyl ek en die seuns buite by die vuur sit en braai. Hendrik sê: “Pappa, nou sit ons manne id aand op ons plaas met ons honde by die vuur. Dit klink soos n storie” (2014-12-19)

#63 Paul se naelstring

Lindie ~ Die boeties help my elke aand om klein Paul te bad. Vanaand was hulle baie besorgd oor sy naelstring. Tot nou toe was daar nog so ‘n klein verdroogde stukkie van seker so 4cm waarvoor ek gewag het om af te val. Toe die boeties my vanaand help om hom uit te trek, roep hulle bekommerd uit: “Mamma! Paul se stingel het afgebreek!!” (2014-11-21)

#62 Ons kleine babatjie

Nati ~ Paul is veilig gebore en die seuns is absoluut gaande oor hom – baie meer as wat ons verwag het. Hendrik is vreeslik versorgend en beskermend. Christiaan noem hom “my babatjie”. Vir die afgelope paar oggende wat Christiaan wakker word, wil jy eerste ding hoor of “my babatjie nog so klein is” terwyl hy sy duim en wysvinger teen mekaar hou. (2014-11-12)

#61 Swangerskap-blues

Lindie ~ Dit is my laaste week van swangerskap voor Paul gebore word en ek kry nou lekker swaar in die Laeveld se hitte. Hendrik was vandag in die kamer toe ek uit die stort klim. Terwyl ek my afdroog hou hy my dop en toe sê hy vir my – terwyl hy met sy vinger na my maag wys – “Mamma…Mamma lyk soos iets verskrikliks!” Wel, ek voel soos iets verskrikliks… (2014-10-27)

#60 Die Stander-(j)apies

Nati ~ Chris sê vir my: “Pappa, ek ith ‘n plath apie”. Omdat daar redelik gereeld blou ape hier by ons verbykom, dog ek hy misgis hom so bietjie met die woord en ek help hom reg: “O, is jy ‘n blou apie?”. Maar Hendrik – wat sy boetie baie beter verstaan as ek óf Lindie – sien my flater raak en word deel van die gesprek: “Nee Pappa, boeta sê hy is ‘n plaas-apie”. En dit is toe dat Lindie een en een bymekaar sit en agterkom dat die seuns nog die heeltyd dink dat daar na hulle as “apies” verwys word as mense vir hulle “plaas-japies” noem! (2014-10-23)

#59 Swanesang wat skeefloop

Lindie ~ Die seuns is baie lief daarvoor om te sing, maar vandag sinkroniseer hulle nie lekker die liedjies nie. Net as Hendrik “Jesus, groot bo almal” begin sing, dan begin Christiaan “Kyk hoe dat die voëltjies vlieg” sing. Sodra Hendrik noot insit vir “Weet jy nie jy’s ‘n tempel”, dan begin Chris weer met “As Hy weer kom…”. Ergerlik gefrustreerd met die onreg, kom kla Hendrik: “Mamma! Boetie druk elke keer met sy liedjie in!” (2014-10-15)

#58 Laeveld-mooi!

Nati ~ Ek kan nie beskryf hoe mooi dit is waar ons bly nie. Geen woorde laat reg daaraan geskied nie. Op die stuk pad wat mens ry om by ons lappie grond uit te kom, ry mens verby ‘n natuurlike bos. Soveel keer sien ons as ons daar verbyry arende in die bome. Of ons wys vir mekaar bokkies of visvangertjies uit. Dit is die mooiste-mooi!

Vandag ry ons weer die stuk pad en Chris sê: “Kyk! Daddamagoen!” Ek vra: “Wat sê jy Chris?”. En hy sê weer: “Kyk! Daddamagoen!” Ek ry stadiger om te kyk waarna hy verwys maar ek sien niks. Ek vra nog ‘n keer: “Wat sê jy Chris?” Duidelik gefrustreerd met my onkunde, spel hy dit vir my uit: “KYK! DADDAMAGOEN!

Wat sê jou boetjie?”, vra ek naderhand vir Hendrik. Hulle verstaan mekaar 100%. Hendrik antwoord nonchalant: “Boeta sê: ‘Kyk! Dis darem maar groen!”. “Ooo!” sê ek, “Jy is heeltemal reg Chris! Dit is darem maar groen.” En ons ry verder terwyl ons ons in die Laeveld verlustig. (2014-10-12)

#57 Ons vernoem ons baba na ‘n kar

Nati ~ Teen hierdie tyd weet ons dat die kindjie wat ons verwag ‘n seuntjie gaan wees. Ons almal is opgewonde oor die nuwe boetjie wat eersdaags sy verskyning gaan maak! Om dit meer konkreet vir die seuns te maak, het ons ook al vir hulle vertel dat ons die nuwe babatjie “Paul” gaan noem.

Vandag raak ons weer aan die praat oor hoe ons nie meer kan wag dat ons derde seun by ons aansluit nie. Ek dog ek toets sommer bietjie hulle geheue en ek vra: “Wat gaan ons nuwe babatjie se naam nou weer wees?” Chris kyk my aan met oë wat vêr terugdink. Hy weet hy het al die naam gehoor. Na ‘n paar sekondes sê hy huiwerig: “Polo?”. Ja wel, Lindie bestuur ‘n Volkswagen Polo en hy het seker gedink dit is net gepas om die boetie na so goeie kar te vernoem. (2014-09-21)

#56 Die “oes” was baie!

Lindie ~ Die seuns het onlangs vreeslik raas gekry. Hulle het in die ou as wat in die braaier gelê het, gespeel. Hulle klere was vreeslik verniel en ek het hulle belet om ooit weer in die as te speel.

Toe ons vandag op die stoep sit kom ons hond, Bonhoeffer, en ruik in die as opsoek na stukkies vleis wat deur die rooster geval het. Vreeslik ontsteld oor die ongehoorsaamheid wat voor hom afspeel, roep Christiaan uit: “Mamma! Bonny Thpeel in die oes!” (2014-09-13)

#55 Rukwinde in die Laeveld

Nati ~ Daar waai mos gewoonlik nie ‘n windjie in die Laeveld nie, maar vandag is daar so ‘n onvriendelike rukwind wat pla. Christiaan is op die oomblik vreeslik gesteld daarop om alles self te doen. Hy wil self aantrek, self eet, self in die kar klim, en wil ook deesdae self vooruit loop sonder om ons hand vas te hou. Vandag hoor ek egter hoe hy vir Lindie sê: “Mamma moet my hand vathhou. Ek ith bang ek gaan wegwaai!” (2014-08-16)

#54 Die voorreg van plaaslewe

Nati ~ Ek en Lindie sê so dikwels vir mekaar hoe bevoorreg ons is om te bly waar ons bly. Die natuurskoon is iets onbeskryfliks en ons kan ons na hartelus uitleef op die kleinhoewe. Hendrik moes ons fyn dopgehou het want hy sê vandag vir my: “Ek dink Pappa het gebid dat ons op ‘n plaas kan bly”. (2014-08-07)

#53 Eerste kouefront in die Laeveld

Nati ~ Dit was vandag ‘n dekselse koue dag hier in die Laeveld. Lindie het vir die seuns lekker dik baadjies aangetrek en musse op hulle koppe gesit. Op ‘n stadium hoor ons egter hulle is besig om in die kaste te grou en amok te saai. “Wat maak julle?” vra ek kwaai. Chris kyk om met een van die serpe wat hy reeds gevind het en antwoord: “Ek thoek ‘n thkoenhand!” (“Skoenhand” ipv handskoen). (2014-07-27)

#52 Om armes te help

Nati ~ Ek en Hendrik ry vanoggend vroeg in dorp toe. Oppad soontoe ry ons verby ‘n klomp plaaswerkers wat besig is om in die teenoorgestelde rigting te stap oppad na al die plase. Hendrik vra: “Pappa, hoekom loop al hierdie mense?”. “Omdat hulle nie geldjies het om ‘n kar mee te koop nie”, antwoord ek. Dit is ‘n koue oggend en ons praat ‘n bietjie verder oor hoe bevoorreg ons is en hoe moeilik ander mense dit het. Op ‘n stadium sê Hendrik van hier agter uit die kinderstoeltjie waar hy sit: “Pappa, ek dink ons moet bid dat Liewe Jesus vir hierdie mense ook geldjies gee.” Ek stem bevestigend saam. Die volgende oomblik roep hy opgewonde uit “Ek weet!”, terwyl hy met sy lyfie vorentoe leun asof hy hom skaars kan beheer. “Wat?” vra ek verbaas. “As ek by die huis kom gaan ek een van die geldjies in my beursie vat en dan gaan ek dit vir hierdie Ooms bring! Dan kan hulle ‘n kar koop!” sê hy baie tevrede dat hy die maatskaplike oplossing bedink het. “Ek dink dit sal Jesus se hart baie bly maak” antwoord ek. Waarop Hendrik reageer: “Ek dink ek gaan sommer al die geldjies in my beursie gee.” (Hoewel sosiale geregtigheid bietjie meer kompleks is as geld uitdeel, is my gebed deesdae dat die Here sal gee dat my seuns hulle altyd sal beywer vir die nood van minderbevoorregtes.) (2014-07-12)

#51 Buitelewe vir seunskinders

Nati ~ Ons bly nou reeds 5 maande op ‘n kleinhoewe wat ons gehuur het, en ons het pas ingetrek op ons eie plot. Die seuns is absoluut gek oor die buitelewe. Chris kom vanmiddag by my ingestap. Hy loop vreemd en hy hou sy arms so snaaks langs sy lyf. “En nou?!”, vra ek. “Ek ta-taal!”, roep hy uit. Na ‘n baie lang gesukkel kom ek agter hy is besig om ‘n tarentaal na te boots. Dit was skreeusnaaks! (2014-06-17)

#50 Mens trou vir die regte redes

Nati ~ Hendrik sê vir my: “Ek wil graag eendag trou”. Ek is so bly toe ek dit hoor. Sou hy so ‘n positiewe assosiasie met die huwelik hê omdat hy my en Lindie dophou, wonder ek? Indien wel, is ons darem besig om iets reg te doen, dink ek verder. “Hoekom wil jy trou?” vra ek in die hoop dat my vermoede bevestig sal raak en ek my ego verder kan streel. “Want dan kan ek ook ‘n trouring kry” sê Hendrik terwyl hy verlangend oor myne streel. Ok, miskien is ons nie sulke geslaagde ouers nie… (2014-06-11)

#49 ‘n Sambreel vir jou oog?

Nati ~ Die manier waarop Christiaan woorde uitspreek en die stemtoon waarmee hy dit doen is hiper “cute”. Mens wil hom net opvreet. Hy sal byvoorbeeld een van ons sonbrille opsit en dan van sy “sambreel” praat. Ons kry hom nie oortuig dat dit eintlik ‘n sonbril is nie – hy praat steeds van sy “thambreel” en sy “babon” (balon). (2014-05-03)

#48 Engelse wat Afrikaans praat

Nati ~ Ons leer die kinders om alle volwassenes – ongeag ras – as “Tannie” of “Oom” aan te spreek. Hendrik is nou al 4 jaar oud en dit is eintlik verstommend om te sien dat hy glad nie velkleur raaksien nie. Vir solank as wat hy ras nie raaksien nie, gaan ons ook nie ras uitlig nie. Hy begin wel agterkom dat daar verskille is, maar hy skryf dit eerder toe aan taal as aan velkleur. Daarom praat hy deesdae van “Engelse” Ooms of Tannies as hy na mense verwys, wat byvoorbeeld petrol ingooi of ons help by ‘n kasregister. Hy het selfs ‘n “Engelse maatjie” by die kleuterskool. So raak hy toe ook eendag aan die praat met ‘n petroljoggie wat ons help. Toe ons wegry sê Hendrik: “Dit was nou lekker! ‘n Engelse Oom wat Afrikaans praat.” (2014-04-15)

#47 Wanneer dit geld reën

Nati ~ Ons het sopas ‘n aanbod op ‘n kleinhoewe gemaak en die verkoper het dit aanvaar. Nou wag ons om te hoor of bank vir ons ‘n huislening gaan goedkeur of nie. Vir die soveelste keer ry ek een middag verby die ou plaashuis waarop ons ‘n aanbod gemaak het, sommer om weer te “kyk” na dit wat ons besig is om te koop. Hendrik ry saam en vra: “Pappa, daardie is mos die plaas wat ons wil koop, né?“. “Ja my seun” sê ek in gedagte terwyl ek droom oor wat kan wees. “Nou hoekom koop ons dan nie die plaas nie?“, vra Hendrik. “Ons wag dat ons geldjies kan kry om dit te kan koop“, antwoord ek. “Wie gaan vir ons die geld gee?“, wil Hendrik weer weet. “Jong, ek hoop dat Liewe Jesus die geldjies vir ons gaan gee“, sê ek terwyl ek duimvashou dat die Here ook die gesprek afluister – wie weet, miskien voel Hy dan verplig om die lening vlot te laat verloop as Hy sien dat my kind so graag op ‘n plaas wil bly. Maar Hendrik val my gedagtes in die rede: “Pappa is nou simpel. Liewe Jesus gaan mos nie vir ons geld vanuit die wolke gooi nie!” (2014-03-15)

#46 Chris ly aan ontkenning

Nati ~ Mens kan sien Chris maak nou kennis met die dubbele ontkenning in Afrikaans – en dat dit hom nog bietjie deurmekaar maak. Hy sê byvoorbeeld nou die dag vir my: “Ek kan nie sien nie, nie.” Maar as hy regtig ernstig oor ‘n saak voel dan sê hy heftig: “Nie ‘avo’ hê nie, nie, nie!” (2014-03-07)

#45 Die insek by die swembad

Nati ~ Hendrik is vas oortuig mens noem die insek wat oor die water hang, ‘n “kokenaalder“. Hoe meer ek vir hom sê dit is ‘n “naaldekoker“, hoe meer hou hy vol dit is ‘n “kokenaalder“. Naderhand is ek so deurmekaar dat ek myself begin betwyfel. (2014-02-04)

#44 As Chris haastig is…

Lindie ~ Een oggend neem ons so bietjie lank na Chris se sin om in die kar te klim. Hy sê toe: “Ek lankso kar toe gaan!” (2014-02-03)

#43 Die Spur se tootats.

Nati ~ Hendrik sê vir my hy wil ook “tootats” kry. Ek vra “wat?!” Hy sê “tootats!” Ek vra wat is “tootats“?!. Hy sê hy weet nie maar sy maatjies wat by die Spur gaan eet kry dit. Na ‘n lang gesukkel kom ek agter hy praat van “tattoo’s“! (2014-01-31)

#42 Die elektriese probleem

Nati ~ Toe ons Witrivier toe trek, moes ons eers in ‘n huurhuis bly. Die huurhuis was op ‘n plot en dit was aanvanklik nogal ‘n storie om die nuwe kragopset te leer ken. Benewens al ons vorige kragtoestelle, was daar skielik nou ook ‘n boorgatpomp en drukpomp om aan aandag te gee. Aanvanklik het een van ons toestelle nie met die hele stelsel geakkodeer nie, en die elektrisiteit het die heeltyd uitgeskop. Dan moet ek elke keer na die pompkamer stap en die krag weer gaan aansit. Een keer kom ek weer so moedeloos van die buitekamertjie teruggestap en ek sê ergerlik vir Lindie: “Êrens is iets verkeerd. Dit lyk my ek het ‘n elektriese probleem.” Duidelik neem Hendrik alles in wat ek vir Lindie sê, want kort hierna gebeur die ergste wat kon gebeur!

Ons het bietjie later ‘n afspraak met gemeentelede wat hulle nuwe dominee wil kom ontmoet, daarom gaan ons onverpoos voort om die huis aan die kant te kry so goed as wat ons kan. Net toe die mense stop, skop die krag ALWEER uit. Hendrik stap saam met my na die buitekamertjie toe om dit aan te sit. Toe ons terug by die huis kom – net reg om die nuwe mense te ontmoet – sê Hendrik gefrustreerd aan sy Ma: “Mamma, dit lyk vir my Pappa het ‘n ereksie-probleem!“. Ek het nog nooit die moed gehad om vir die gaste te vra of hulle gehoor het wat hy daardie dag gesê het nie… (2014-01-10)

#41 Die neteligheid van Suid-Afrikaanse politiek

Nati ~ Ons het baie die afgelope ruk met Hendrik oor Madiba gepraat en vir hom vertel watter wonderlike leier hy was. Ek het velkleur vir eers uit die storie gehou – net gesê daar was mense wat nie van mekaar gehou het nie en op die ou einde het Madiba hulle geleer om mekaar te vergewe. Dit is vir my so belangrik dat Hendrik van kleins af ‘n positiewe assosiasie sal hê met ons land se mense. Maar duidelik het dit Hendrik ontstel om te hoor dat iemand so lank in die tronk kon sit. Vandag vra hy vir my: “Pappa, was dit slegte mense wat Oom Mandela in die tronk gesit het?”. Ek het eerlik nie geweet wat om te antwoord nie. Dit sou nie heeltemal die waarheid wees as ek maak asof dit almal “slegte” mense was nie. Maar dit sou Hendrik nog meer deurmekaar maak as hy hoor dat “goeie” mense so iets aan iemand anders kon doen. Ek wens die Suid Afrikaanse geskiedenis was eenvoudiger. Ek het vandag met afgryse besef dat ek eendag vir Hendrik die storie van apartheid gaan moet verduidelik. En dit is een ding om ‘n storie van vergrype te vertel as jou mense die slagoffer was. Dit is moeiliker om dit te vertel as jou mense die geweldenaars was. (2013-12-18)

#40 Madiba-magic

Nati ~ Die afgelope ruk loop die nuusflitse op al wat ‘n radio en tv is oor van Madiba se dood en begrafnis. Hendrik vra: “Was Oom Nelson Mandela een van Jesus se 12 dissipels?” (2013-12-15)

#39 So baie dinge, so min tyd

Lindie ~ Hendrik vra of hy my pen en liniaal kan leen om ‘n prentjie mee te teken.  Ek sê dis reg so. Hy vra of ek vir hom ‘n papier sal gaan haal.  Ek sê: “Nee, Hendrik, jy weet waar is die papier. Gaan haal gou vir jouself een.”  Sy antwoord? “Nee Mamma, ek kan nie nou nie.  Ek het nie nou tyd nie!” (2013-12-08)

#38 Die lewe in Swede

Nati ~ Hendrik is baie lief vir sy dagmoeder, Hettie, en haar man, Hannes. Hannes moet vir ‘n paar weke Swede toe gaan vir sy werk. Toe Hettie dit vir hom sê, dink hy so paar sekondes hieroor na en vra: “Moet Oom Hannes sweet in Swede?” (2013-12-04)

#37 ‘n Skelm vir ‘n Pa

Nati ~ Ons probeer baie doelbewus die lelike kant van die lewe van die seuns wegskerm. Omdat ons nog glad nie dinge soos skelms, steel, doodmaak, polisie, soldate en oorlog beklemtoon het nie, word Hendrik nou eers regtig bewus van hierdie dinge wanneer hulle dit by die kleuterskool speel. Op hierdie stadium probeer hy uitpluis wie is die “goeie” en die “slegte” ouens. So gebeur dit toe vandag dat toe ek by PNA in die ry gaan staan om te betaal, hy kliphard tussen al die ander klante sê: “Pappa, wou jy nog altyd ‘n dief geword het?” (2013-11-26)

#36 Cool speelgoed

Nati ~ Hendrik kom deesdae gereeld met snaakse uitdrukkings by die huis wat hy by die kleuterskool opgetel het. Net in die week hoor ek hom sê: “Dis cool! … Pappa, wat beteken cool?”. Vandag speel hy met ‘n karretjie. Kort-kort hoor ek die “mannetjie in die karretjie” sê: “Asem!”. Ek dog eers die karretjie ry dalk onder die water en dat die mannetjie na sy asem snak, maar toe ek nader ondersoek instel en vir Hendrik vra hoekom hy “asem” sê, toe weet hy nie. Hy sê hy hoor maar net die maatjies by skool sê “asem”. Na ‘n lang gesukkel kom ek agter dit moet seker “awesome” wees. (2013-11-06)

#35 Mamma se hare

Nati ~ Lindie het vanoggend hare gewas. Toe sy uit die stort klim sê Hendrik: “Mamma, jy lyk nou nie eers soos ‘n mens nie. Jy lyk soos ‘n . . . dier. Hmmm, soos ‘n wilde aap!” Lindie kyk na my kant en sug, “ek het geweet dit gaan ‘n ‘bad hair day’ wees“. (2013-10-30)

#34 Lindie se lippe

Nati ~ Lindie vra vir Hendrik om vir haar ‘n soentjie te gee. Hy sê: “Nee Mamma, eintlik hou ek nie daarvan om vir jou soentjies te gee nie. Jou lippe lek.” Ten minste hou sy pa daarvan om haar te soen! (2013-10-29)

#33 Waarmee begin h?

Lindie ~ Vir die lentedagvieringe by Hendrik se kleuterskool, moet elke klassie se kinders aantrek soos iets wat met ‘n sekere letter van die alfabet begin. Hendrik se Bytjie-klas trek aan soos enige iets wat met ‘n “H” begin.  Terwyl ons vir hom ‘n huisie-kostuum maak gesels ons oor verskillende goed wat met ‘n h begin: “‘n Huis, ‘n haas, ‘n hoed“, ens…  Hy dink so bietjie en sê: “Mamma, begin ‘h’ ook met ‘n ‘hoender’?” (2013-10-05)

#32 Liggaamsdele

Nati ~ Op die oomblik probeer ons Chris se woordeskat uitbrei. Ons sal tipies vir hom vra “Waar is jou kop?” en dan vat hy aan sy kop. Dan sal ons vir hom sê  “Waar is jou voete?“, dan vat hy aan sy voete. En dan “Waar is jou neus?” en dan vat hy aan sy neus. Vandag sit Hendrik so stil-stil die petalje en aankyk. Na ‘n rukkie vra hy: “Pappa, waar sit mens se verbeelding?“. Ek het glad nie geweet wat om te antwoord nie… (2013-09-26)

#31 Om God te groet op Saterdagoggende

Nati ~ Ek en Hendrik ry Saterdag vroegoggend êrens heen. Ons het skaars in die kar geklim en die straat af gery toe hy sy venster oopdraai, sy kop uitsteek en terwyl hy na bo kyk, uit volle bors skree: “Hallo God! Ek is lief vir jou!“. Dit het ‘n gllimlag op my gesig gesit en ek is seker op God s’n ook! (2013-09-21)

#30 As Pappa bekaf lyk

Nati ~ Baie dinge maal deur my kop. Ek sit en staar voor my uit. Hendrik sê: “Pappa, het iemand met jou lelik gemaak?” (2013-09-15)

#29 Jesus se bed

Nati ~ Hendrik vra uit die bloute uit: “Pappa, het Liewe Jesus ‘n bed?“. “Nee“, sê ek. Ek sien hy lyk bekommerd en daarom begin ek verduidelik. Met selfversekerdheid vertel ek vir hom dat Psalm 121:4 vir ons sê dat die Here nie sluimer nie en ook nie slaap nie. Maar hoe meer ek dit met trots vertel, hoe meer verklap sy gesiggie teleurstelling. Tot so ‘n mate dat ek vir hom op ‘n stadium vra hoekom hy nou so hartseer lyk. Dis toe dat Hendrik sy plan met my deel: “Ek wou so graag op Jesus se bed in sy arms gaan lê as ek in die oggende wakker word.” Dit is my en sy ritueel en ek besef ek het hierdie vraag gedop. Ek antwoord toe maar: “O ja! Pappa het verkeerd gesê. Liewe Jesus het definitief ‘n bed en dit sal vir Hom lekker wees as jy elke oggend by Hom gaan lê“. “Pappa, Liewe Jesus is vriendelik, né?“, vra Hendrik weer hoopvol. “Yip“, knik ek bevestigend. (2013-09-14)

#28 Tuinmaak

Nati ~ Hendrik het my waarskynlik dopgehou toe ek die aarbeiplantjies in ons mini-groetetuin plant, want so rukkie later sien ek hy is hard aan die werskaf met ‘n graaf tussen my plante. Ek vra vir hom, “Wat maak jy?” en hy antwoord sonder om op te kyk “Ek plant ‘n gat“. (2013-09-07)

#27 ‘n Hartseer oom

Lindie ~ Ons gaan koop aandete by die Kentucky “drive-thru“.  ‘n Man met baie verslete klere staan en bedel waar ‘n mens jou kos bestel.  Hendrik kyk aandagtig na die man en vra: “Mamma, hoekom lyk daardie oom so hartseer?“.  Dikwels verstom hy ons met sy emosionele intelligensie.  Mag hy regdeur sy lewe so sensitief wees vir mense in nood! (2013-08-17)

#26 Gautrein

Nati ~ Ek en Lin het onlangs die kinders op ‘n uitstappie geneem. Ons het gaan Gautrein ry, maar dit baie duidelik gemaak dat dit nie ‘n gereelde ding gaan word nie omdat dit baie baie duur is. Dit moes ‘n groot indruk op hulle gemaak het, want vandag vra Hendrik vir my “Pappa, kos die geldtrein baie geld?” (2013-08-16)

#25 Oor pappagaaie

Nati ~ Hendrik en Christiaan staan by die troeteldierwinkel en kyk na die 2 African Grey’s wat langs mekaar sit. Ek sê vir hulle mens noem hierdie voël ‘n “pappagaai“. Hulle staar na die Grey’s en na ‘n rukkie vra Hendrik terwyl hy met sy vinger na een van hulle wys: “Is hierdie een die pappagaai se boetiegaai?” (2013-08-07)

#24 Die suurstof in strepsils

Nati ~ Hendrik is siek met mangelontsteking. Lindie gee hom ‘n pilletjie om te suig vir sy seer keel. Dit het egter ‘n baie skerp, suur smaak. Na ‘n rukkie kom hy terug en plaas die keelseerpilletjie op die kombuiskas met die woorde: “Mamma, ek hou nie van die suurstof in hierdie lekkertjie nie“. (2013-07-22)

#23 Die ou dae se karre

Nati ~ Hendrik sê: “Pappa, het jy geweet, in die ou dae het die mense nie karre gehad om mee te ry nie – toe moes hulle met hulle huise ry. Maar hulle pap het toe van die tafels afgeval.” (2013-07-11)

#22 Die ou dae se bome

Nati ~ Hendrik sê: “Pappa, het jy geweet, in die ou dae het die mense nie bome gehad om in te klim nie – toe moes hulle op lamppale klim?” (2013-07-09)

#21 Skelm kieme

Nati ~ Hendrik vertoon erge simptome van griep. Hy kom staan by my en sê: “Pappa, my keel is seer“. Ek sê: “My wêreld Hendrik. Ek wonder waar het jy so siek geword?“, waarop hy antwoord “seker toe ek nie gekyk het nie, het die kieme in my mond geklim“. (2013-06-23)

#20 Handsakke in die hemel

Lindie ~ Na aanleiding van ons een hondjie wat laas week dood is, vra Hendrik vreeslik baie vrae oor die dood. So wil hy vanmiddag weet: “Mamma, hoekom het jy ‘n nuwe handsak gekoop?” Ek: “Want my ou handsak is stukkend“. “Oooooo” sê Hendrik… “so is daai ou handsak nou by Liewe Jesus…?” (2013-06-10)

#19 ‘n Groot Naartjie

Lindie ~ Hendrik (3 jr) wys vanaand na die vrugte in die vrugtebak en se: “Kyk hierdie grotes!” Ek tel een op en se: “Sjoe, ja dit is ‘n groot naartjie hierdie“. “Nee Mamma“, sê Hendrik, “dis ‘n grooooote, so dis ‘n NAR, nie ‘n NAARTJIE nie!” -(Oeps, miskien oordoen hierdie spraakterapeut-mamma die taallessies ‘n bietjie!) (2013-06-08)

#18 Verpesting van ‘n nat lap

Nati ~ Op die oomblik werk ons oggendritueel so dat ek vir Hendrik aantrek terwyl Lindie vir Chris aantrek. Sodoende is almal betyds vir werk en kleuterskool. Toe ek klaar vir Hendrik aangetrek het en met hom die kamer instap, vra Lindie dat ek tog asseblief sy gesig met ‘n nat lap sal skoonvee. Klaarblyklik het ek die dag tevore vergeet en moes sy met ‘n nat vinger sy gesiggie voor die hek van die kleuterskool skoonvee. Hendrik, wat ‘n koue nat lap so vroeg die oggend in sy gesig verpes, protesteer heftig en val sy ma in die rede: “Nee Mamma, ons maak seuns groot” – presies my gedagte gewees! (2013-06-07)

#17 Sement en balonne

Lindie ~ Hendrik was die laaste ruk by heelwat kinderpartytjies waar daar helium-balonne uitgedeel is. Hy was vreeslik beïndruk met hierdie balonne wat kan opstyg!  Ek verduidelik toe vir hom dat hierdie partytjie-balonne met helium gevul is, wat maak dat dit kan opstyg.  Om een of ander rede het die lessie bietjie verdraaid vasgesteek, want die volgende keer toe hy met ‘n gewone opgeblaasde balon speel, vra hy: “Mamma, hoekom wil hierdie balon nie opstyg nie? Is dit omdat daar nie sement in is nie…?” (2013-06-06)

#16 Huis afbreek

Nati ~ Na ‘n rowwe dag van speel, kom Hendrik vanaand na my toe en sê: “Pappa, as ek eendag na Liewe Jesus toe gaan, sal ek nie sy huis afbreek nie.” (2013-06-05)

#15 Toonbeeld van onskuld

Nati ~ Hendrik sê vanaand uit die bloute vir my: “Pappa, ek sê nooit ‘dammit’ nie en ook nie ‘poep’ nie en ook nie ‘snot’ nie”. Ek dink by myself hoe wonderlik dit moet wees as dit die lelikste woorde in jou woordeskat is. Dit is ware onskuld. (2013-05-17)

#14 Alewig ‘n gejaag

Nati ~ Dit is naweek en vir ‘n slag is ons nêrens heen oppad nie. Ek help die seuns aantrek. Toe ek die hemp oor een van hulle se koppe trek, vra Hendrik: “Is ons nie haastig nie?“. Ek besef toe met ‘n skok dat dit die rympie is waarmee ek hulle elke oggend aanjaag. (2013-05-04)

#13 Boontjies wat “oud” geword het…

Lindie ~ Ons eet aandete en Hendrik is nie baie lus vir sy boontjies nie.  Hy eet ‘n happie vleis en sê: “hierdie ene is reg!“, eet dan ‘n worteltjie (waarvan hy ook hou) en sê weer “hierdie ene is reg“,maar skuif met sy vingertjie al die boontjies een vir een, eenkant toe op sy bord en met elke skuif sê hy: “hierdie ene is oud“…! (2013-03-25)

#12 Gebelgd deur ‘n ongelowige gebed

Nati ~ Ons sal verskeie kere as gesin vir mense bid. Onlangs het ek weer ‘n sms ontvang wat ‘n noodkreet van ouers bevat, wie se kind in gevaar was. Lindie het gesê dat ons sommer daar en dan in die kombuis moet hande neem en bid. Toe ek later die aand van die hospitaal terugkeer, was Hendrik se geloof baie versterk toe ek aan hom kon meedeel dat die kindjie vir wie ons gebid het, veilig is. Vir hom was dit voor die handliggend: As jy ‘n probleem het, bid jy en siedaar!

Vandag ek het egter vir Lindie in die kombuis genoem dat ek môre ‘n begrafnis van iemand het. Hendrik wou weet wat ‘n begrafnis is, en nadat ek vir hom verduidelik het, het hy gevra of niemand dan vir die persoon wat aan kanker oorlede is gebid het nie. Toe ek antwoord dat daar inderdaad baie mense vir die persoon gebid het, het hy met ‘n gebelgde verontwaardiging in sy gesig gevra: “Wie het gebid?” – asof die probleem sekerlik gelê het by die persoon wat so swak gebid het. (2013-03-25)

#11 Tandeborsel

Lindie ~ My gepreek oor hoekom Hendrik nie elke dag lekkers kan kry nie, het bietjie verwronge vasgesteek, dink ek. Hy sê vanoggend: “Pappa, ons kan nie elke dag tande borsel nie. Die tandepasta het te baie suiker in!” (2013-04-11)

#10 Nefies wat babbel

Nati ~ Nefie Gideon kuier een Saterdagmiddag hier by ons. Op hierdie stadium kon Gideon nog nie praat nie – maar hy babbel “vol sinne” asof hy presies weet wat Hy wil sê. Selfs Hendrik is oortuig dat Gideon ‘n gesprek met hom voer. Op ‘n stadium kom sê Hendrik erg gefrustreerd aan my: “Pappa, ek verstaan nie vir Gideon nie. Hoekom praat hy met my Engels?“. (2013-02-02)

#9 Wie gaan Jesus toe en wie bly?

Lindie ~ Hendrik (2,5 jaar) sê die naweek vir my: “Mamma, ek wil eendag Jesus toe gaan.” Ek sê: “Ja Hendrik,ons almal gaan eendag na Jesus toe“. “Gaan Pappa ook?“,vra hy. “Jip“,antwoord ek. “En Boeta?“. “Ja”. “En Mamma ook?“Vra hy. “Ja“, antwoord ek. Hy dink ‘n rukkie en baie bekommerd vra hy:”Nou wie gaan dan die honde oppas?” (2012-10-23)

#8 Elkeen vir homself…

Lindie ~ Hendrik (2,5 jaar) wil nie vanaand dat ek hom help om sy tande te borsel nie . . . Hy verduidelik ewe vir my asof ek nie mooi verstaan hoe dit werk nie:”Nee, Mamma! Jy kan jou tande borsel, en ek sal my tande borsel!” (2012-08-19)

#7 Oogappel

Lindie ~ Hendrik sê vanaand uit die bloute vir my:”Mamma,ek is Jesus se ‘appeloog’!” Mag elkeen van ons (ook die van ons wat ouer as twee jaar oud is!) hierdie week onthou hoe lief Jesus ons het! (2012-04-28)

#6 Mense eet nie bene nie…

Lindie ~ Ons eet braaivleis en Hendrik wil weet hoekom ek nie die laaste kos op my bord eet nie. Ek wys toe vir hom dis net ‘n stuk been van my tjoppie  wat in my bord oor is. ‘n Paar aande later eet ons pasta. Hendrik eet langtand aan die eerste drie happies en skuif sy bord weg.  Toe ek vra hoekom hy nie sy kos klaar eet nie, sê hy: “Ek kan nie daardie eet nie, dis net bene!” (2013-04-15)

#5 “Eina Storie”

Nati ~ Hendrik sê vanoggend: “Ek wil storie lees“. Lindie vra: “Watter storie wil jy hoor?“. Hy antwoord: “Jesus eina“. Here, mag die storie van die kruis altyd my kinders aan die hart gryp. (2012-04-03)

#4 Oggend van Hendrik se 2e verjaarsdag #EpicFail!

(2012-03-11)

#3 Hendrik groet sy nuwe boetie 

(2012-01-25)

#2 Die wiele van die bus

Lindie ~ Ek het die fout gemaak om vir Hendrik “Die wiele van die bus gaan en om en om…” te sing. Nou is dit skielik sy gunstelingliedjie en vra hy oneindige hoeveelheid kere op ‘n dag daarvoor.Ons sal baie gou ‘n nuwe gunstelingliedjie moet kry!!! (2011-11-07)

#1 Eerste opbrengs

Nati ~ Hendrik praat op hierdie stadium een woord sinnetjies en ten spyte daarvan het hy my dag vanoggend gemaak! Hy het by ons in die bed geklim en gevra dat Lindie vir hom liedjies moet sing. Die gesprek het my hoendervleis gegee en het as volg gelyk:

  • Hendrik: “Nog”
  • Lindie: “Moet Mamma nog sing?”
  • Hendrik: “Ja”
  • Lindie: “Watter liedjie moet Mamma nog sing?”
  • Hendrik: “Jesus”
  • Verslae kyk ek en Lin na mekaar. Lindie probeer vasstel of ons reg gehoor het en vra: “Moet Mamma van Jesus sing?
  • Hendrik knik sy kop instemmend en sê: “Ja!”

Hy is nog nie eers twee jaar oud nie! Was hierdie die eerste opbrengs van al die kere wat Lindie die afgelope paar maande vir hom in die aande Bybelstories gelees en liedjies gesing het? Ek kan nie help om te wonder of ‘n kind se verstaansvlak van die geestelike, meer is wat ons dink nie. Hoe groot is ons kapasiteit om vir die Heilige Gees ontvanklik te wees? (2011-10-05)